Egipte moet gou besluit, sê Withuis
2011-11-25 17:11
Washington – Die oorhandiging van mag van die militêre raad na ‘n burgerlike regering in Egipte moet “regverdig” wees en “so vinnig as moontlik” plaasvind, het die Wit Huis Vrydag gesê.
“Dit is belangrik dat die oorhandiging van mag na ‘n burgerlike regering moet plaasvind op ‘n regverdige en inklusiewe wyse wat aan die behoeftes van die Egiptiese mense voldoen. Dit moet so vinnig as moontlik gebeur,” het Jay Carney, die Wit Huis se media-sekretaris, in ‘n verklaring gesê.
Die opmerkings is gemaak nadat ‘n Egiptiese televisiekanaal berig het dat die regerende militêre raad vir Kamal al-Ganzuri, ‘n vorige premier van die land, gevra het om die nuwe kabinet se lede te kies.
Ganzuri was van 1996 tot 1999 die premier en hoof van die kabinet onder die onsetelde president, Hosni Mubarak.
Die militêre raad het Dinsdag die bedanking van die tussentydse premier, Essam Sharaf, se kabinet aanvaar ten tyde van politieke onrus.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP