Eerlike taxibestuurder gee R7,9 miljoen terug aan passassiers
2012-11-20 15:02
Singapoer – ‘n Taxi-bestuurder in Singapoer is as ‘n held beskryf ná hy $900 000 (sowat R7,9 miljoen) se kontant aan ‘n Thaise paartjie terugbesorg het wat die geld in sy motor vergeet het.
Sia Ka Tian was geskok toe hy die geld in ‘n swart papiersak op sy agtersitplek ontdek het ná hy die paartjie by ‘n winkelsentrum afgelaai het.
“Toe ek die geld sien het ek gedink 'hier kom moeilikheid'. Ek het gedink daar is minstens $200 000 in die sak,” het die 70-jarige taxibestuurder aan die Straits Times gesê.
Hy het die voorval by die ComfortDelGro-vervoermaatskappy aangemeld, waar sy kollegas $900 000 se kontant in die sak getel het.
“Die geld is nie belangrik vir my nie. Dit behoort nie aan my nie, so hoe moet ek dit gebruik?” het Tian gesê. Hy is al 31 jaar lank ‘n taxibestuurder.
Die Thaise paartjie, wat met vakansie is, het die vermiste geld by die maatskappy aangemeld, waar Tian hulle ingewag het.
Tian het ‘n onbekende bedrag as belonging gekry by die dankbare paartjie en die maatskappy beplan ook om vir hom ‘n belonging te gee vir sy goeie diens.
“Om amper een miljoen dollar se kontant te kry is nie ‘n alledaagse gebeurtenis nie en ons wonder hoeveel mense die geld net sou steel,” het Tammy Tan, die maatskappy se woordvoerder, gesê.
“Ons is baie trots op hom en is bly dat die paartjie hulle geld kon terugkry.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP