Eensame posman trou met sy kat
2010-05-04 06:34
Berlyn – ’n Duitse posman het met sy oorgewig asmatiese kat, Cecilia, getrou en gesê hy wou met haar in nn die huwelik tree voor sy bejaarde troeteldier sterf, het die poniekoerant Bild gister berig.
“Cecilia is so ’n getroue wese. Ons liefkoos mekaar die heeltyd en sy het nog altyd in my bed geslaap,” het Uwe Mitzscherlich (39), ’n alleenloper van Possendorf naby Dresden, gesê.
“Ons deel dieselfde hart.”
Omdat dit onwettig is om met ’n dier te trou, het Mitzscherlich €300 (R3 000) aan ’n aktrise betaal om die seremonie te voltrek, terwyl sy tweelingbroer die getuie was.
Die “paartjie” was behoorlik opgetooi vir hul groot dag – Mitzscherlich het ’n troupak en ’n keil gedra en die 15-jarige Cecilia, wat deurentydgemiaau het, ’n wit rok.
- Die Burger