Een sterf, agt beseer in ontploffing in Thailand
2012-02-09 11:00
Pattani – Een burgerlike is dood en agt ander is beseer toe ‘n bom Donderdag buite ‘n gesondheidsentrum in Pattani, Thailand, ontplof het, het amptenare gesê.
Die bom het om 08:05 buite die Pattani-gesondheidsentrum, 700 km suid van Bangkok, ontplof terwyl regeringswerkers by die gebou ingegaan het.
“Hierdie gewelddadige aanval word waarskynlik verbind met die dood van die vier burgerlikes in Nong Chik,” het maj. genl. Akarra Thiproj, woordvoerder van die Southern Peace-Keeping Command, gesê.
Op 29 Januarie het paramilitêre-troepe op ‘n bakkie geskiet wat Moslems van ‘n moskee in die Nong Chik-streek vervoer het. Vier mense is in die voorval dood.
Die troepe het oorspronklik beweer dat daar eerste op hulle eerste geskiet is, maar die polisie se ondersoeke het nie enige bewyse gevind dat dié op die bakkie geskiet het nie.
Thailand se drie mees suidelike provinsies, Narathiwat, Pattani, en Yala, is die enigste provinsies wat meestal deur Moslems bewoon word. Thailand is grotendeels ‘n Boeddhistiese land.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA