Een miljoen honger in Sirië
2013-01-08 14:34
Genève – Die Wêreldvoedselprogram (WVP) het Dinsdag gesê dat hy een miljoen mense wat in Sirië honger ly, nie voldoende sal kan help nie.
Die agentskap mik om hierdie maand 1,5 miljoen mense in Sirië te help, maar kan nie die orige een miljoen help wat honger ly nie, het Elisabeth Byrs, woordvoerder van die agentskap, gesê.
“Ons hoofvennoot, die Rooikruis, is klaar oorbenut en kan nie nog verder help nie,” het Byrs gesê.
Sy het ook gesê dat hulle van hul personeel uit stede soos Homs, Aleppo, Tartous en Qamisly moes onttrek as gevolg van die gevaar in dié gebiede.
Die Verenigde Nasies het verlede week gesê dat meer as 60 000 mense al in Sirië dood is sedert die opstande in die land in Maart 2011 begin het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP