Dwelmbase onkant betrap tydens partytjie op boot
2012-10-15 16:14
Moskou – ‘n Klopjag op ‘n partytjieboot op die Moskou-rivier het gelei tot die inhegtenisneming van agt mense wat glo deel is van ‘n dwelmhandel-groep.
Beamptes van die federale dwelmbeheerdiens het Saterdag op die boot toegesak terwyl ‘n partytjie daarop gehou is, het The Moscow Times berig.
Meer as ‘n 1 000 jongmense, tussen die ouderdom van 18 en 25, was aan boord die vaartuig gewees ná hul ‘n toegangsfooi van $80 (sowat R700) betaal het.
“Die mense was 'n bietjie uit die veld geslaan en het dadelik oral dwelms laat val, op die vloer, op kroeë, in toilette, op die dansvloer; en hulle het selfs van die dwelms oorboord gegooi,” het ‘n verklaring van die beamptes gelui.
“Hulle het egter nie daarin geslaag om al die bewysse te vernietig nie en die beamptes het ‘n groot hoeveelheid dwelms gekonfiskeer, insluitend kokaïen, MDMA, tik, dagga en LSD.”
Die beamptes het meer as 70 mense in hegtenis geneem wat glo onder die invloed van dwelms was en het hulle na hospitale gestuur vir toetse.
Dit is nog nie duidelik watter aanklagte teen die agt vermeende dwelmhandelaars gemaak is nie.
– Volg Nuus24 op Twitter