Dwaalkoeël eis vrou tydens Nuwejaarsvieringe
2011-01-01 09:26
Manila - 'n Vrou is dood en meer as 200 ander mense is beseer toe Nuwejaarsvieringe in die Filippyne handuit geruk het, het amptenare Saterdag gesê.
Die vrou is getref deur 'n dwaalkoeël terwyl sy buite haar huis in Taguing-stad na 'n vuurwerkvertoning gekyk het, het Manila se polisiehoof, Nicanor Bartolome, gesê.
Intussen het die gesondheidsdepartement gesê minstens 245 ander mense is tydens feesvieringe oor die res van die land beseer. Die beserings het meestal verband gehou met vuurwerkvertonings en dwaalkoeëls.
Die aantal Nuwejaars-verwante beserings sal na verwagting verder styg namate verslae van verafgeleë provinsies begin instroom.
Filippynse burgers maak tradisioneel baie geraas en gebruik vuurwerke in die geloof dat hulle die slegte geluk van die vorige jaar verjaag en goeie geluk in die nuwe jaar aantrek.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA