Duitsland steier onder vloede
2010-08-10 09:40
Die Burger
Den Haag – ’n Breë strook deur Duitsland, van die suidooste tot by die Baltiese See in die noorde, sit en wag op die ergste vloede sedert die ramp van 2002.
Die verwagting is dat die hoogste alarmgraad – graad 4 – Dinsdag in die deelstaat Brandenburg afgekondig word.
Die erns van die saak blyk daaruit dat die water in die dorp Bad Muskau aan die Poolse grens in die deelstaat Sakse Dinsdag met tot 4,5 m kan styg.
Die verwagting is dat die Fürst Pückler-park buite die dorp – ’n Unesco-erfenisgebied – heeltemal oorstroom sal word, met katastrofale gevolge vir die natuur.
Volgens die Frankfurter Allgemeine Zeitung was die reën in die opvanggebiede van die Oder en Neisse in die driehoek waar die grense van Duitsland, Pole en Tsjeggië bymekaarkom, die ergste in baie jare – tot 160 F/m².
’n Damwal in Pole het gebreek, ofskoon ’n ander een net binne die Duitse grens nog hou. Ingenieurs monitor die damwal elke uur om te kyk of hy barste ontwikkel.
By Görlitz in dié omgewing het die water tot bokant die 7 m-merk gestyg. Huise en kantoorgeboue is heeltemal of gedeeltelik oorstroom.
Ofskoon die vloedwater effens stadiger vloei as wat aanvanklik verwag is, het die vloed die grens van die deelstaat Brandenburg teen Maandagmiddag bereik.
Die water vloei langs die Oder en Neisse, en die verwagting is nie dat plekke verder weswaarts, soos Berlyn of Hamburg, erg getref sal word nie.
Skade ten bedrae van miljoene rande is aangerig, maar dit sal ’n tyd duur voor die presiese omvang bekend word. Volgens weervoorspellers is die einde van die reën nog nie in sig nie.
Intussen word groot dele van Rusland verlam deur uiterste hitte en die meeste bosbrande nóg in die geskiedenis. Moskou het feitlik tot stilstand gekom weens die digte rook wat oor die stad hang.
Luidens berigte bedreig die brande onder meer die kernnavorsingsentrum Sarof, sowat 350 km suid van Moskou. Alle kernmateriaal is reeds uit die aanleg verwyder.
In Moskou – met sy bevolking van sowat 18 miljoen – sterf tot 700 mense daagliks tans weens die rook, luidens berigte.
- Die Burger