Duitsland in die visier van terroriste
2010-11-22 08:05
Den Haag - Islamitiese terroriste beplan ’n selfmoord-aanslag op die hart van die Duitse demokrasie – die Reichstag in die sentrum van Berlyn, waar die bondsdag of parlement sit.
Die hele Duitsland is die laaste dae in rep en roer ná ’n openbare waarskuwing van die land se minister van binnelandse sake, Thomas de Maizière, dat hy “konkrete aanwysings” het van ’n aanslag wat voor die einde van die maand verwag word. Hy het alle polisiebeamptes se verlof met onmiddellike ingang ingetrek, en luidens berigte is groot getalle veiligheidswagte, dikwels met outomatiese gewere, by treinstasies, lughawens en regeringsgeboue te sien.
Die nuustydskrif Der Spiegel het die naweek eksklusief berig dat die Reichstag blykbaar die terroriste se doelwit is en soveel moontlik parlementslede en ander mense dood te skiet. Die doel is nie om self lewend uit die geveg te kom nie. Twee van die terroriste het Duitsland glo reeds ses tot agt weke gelede binnegesypel; die ander vier wag op die bevel om te kom.
Volgens die tydskrif verneem hy van “onberispelike bronne” dat de Maizière se waarskuwing gebaseer is op twee sake. Die een is ’n terroris wat wil “uitklim” en wat die Duitse inligtingsdiens op die hoogte gestel het.
Die Amerikaanse FBI het ook die Duitsers twee maande gelede in kennis gestel dat ’n Sjiïtiese groep, afkomstig uit Indië (wat homself Saif of “swaard”) noem, ’n ooreenkoms met Al-Kaïda bereik het om Duitsland aan te vat. Twee terroriste sou na bewering vandag in die Verenigde Arabiese Emirate aankom en met nuwe paspoorte toegerus word.
Die hoof van die Duitse polisie het gister ook aan die Frankfurter Allgemeine Zeitung bevestig dat die inligting van “verskillende bronne” afkomstig is.
- Die Burger