Duitse soldate dood Afgaanse troepe
2010-04-03 11:21
Berlyn – Duitse soldate het vyf Afgaanse troepe, wat in twee motors onderweg was en geweier het om by ‘n ondersoekpunt te stop, doodgeskiet, het die Duitse weermag Saterdag gesê.
Die voorval het laat Vrydag naby Kunduz in die noorde van Afganistan plaasgevind.
Die twee motors het na die Duitse soldate wat aan diens was gery, maar het nie gestop vir ‘n ondersoek nie.
Gevolglik het die Duitse soldate uit ‘n voertuig op een van die motors begin skiet.
Volgens ‘n woordvoerder vir die Duitse weermag is hulle jammer oor die voorval en ‘n ondersoek daarin sal geloods word.
Dit volg op gevegte Vrydag tussen Duitse soldate en militante van die Taliban waarin drie Duitsers dood en agt beseer is.
Die soldate was besig om landmyne te verwyder toe hulle deur sowat 100 Taliban-vegters aangeval is, het Duitse weermag-amptenare gesê.
Dit het die dodetal van Duitse soldate wat in Afganistan doodgemaak is na 39 laat styg.
- Sapa-dpa