Duitse gesin kry ‘godsdiens-asiel’
2010-01-28 07:03
Leopold Scholtz
Den Haag - Politieke asiel is aan ’n Duitse gesin in die VSA verleen omdat die Duitse skole na die ouers se sin nie Christelik genoeg is nie.
Verskeie Europese en Amerikaanse media berig regter Law-rence Burman het eergister formeel asiel aan Uwe en Hannelore Romeike en hul vyf kinders toegestaan.
Die Romeikes het aangevoer hulle het in Duitsland besluit om hul kinders uit die skool te haal en tuis te onderrig omdat die Duitse skole nie Christelik genoeg is nie. Die wet in Duitsland laat dit egter nie toe nie en ná talle bevele om die kinders skool toe te stuur, het die polisie die kinders in 2006 self skool toe gevat.
Hulle is ’n boete van R10 000 opgelê, wat hulle nie wou betaal nie. Toe hulle die saak hof toe gevat het, het hulle verloor.
In November 2007 het die Duitse appèlhof boonop in ’n saak wat nie daarmee verband hou nie, beslis die staat mag kinders in noodgevalle van hul ouers wegneem. Vir die Romeike-egpaar was dit die laaste druppel. Hulle het na die VSA vertrek, waar hulle – met die hulp van die verregse Home School Legal Defense Association (HSLDA) – om politieke asiel aansoek gedoen het.
Luidens berigte het die HSLDA se advokaat in die hof aangevoer mense wat hul kinders tuis wil onderrig, behoort tot ’n spesiale maatskaplike groep wat deur die Duitse regering verdruk word.
– Die Burger