Duisende vlugtelinge in China
2009-08-28 10:31
Beijing - Duisende vlugtelinge uit Mianmar skuil in onvoltooide woonkomplekse in China, het inwoners van dié areas meegedeel.
Die mense vlug van gevegte wat tussen die regeringstroepe en ‘n rebellegroep van Mianmar uitgebreek het.
Sporadiese skietery kon Vrydag deur die dag gehoor word, het ‘n fabrieksbestuurder van Nansan, 50m van die grens tussen Mianmar en China, gesê.
Volgens die bestuurder het daar al ongeveer 10 000 mense uit Kokang na China gevlug.
Kokang is ‘n distrik in die noorde van Mianmar wat meesal uit etniese Chinese bestaan.
Die area word deur militia beheer.
Chinese owerhede bied skuiling in onvoltooide woonkomplekse, party nog sonder vensters, aan die vlugtelinge.
‘n Werker van ‘n internasionale mediese liefdadigheidsorganisasie het getuig dat die plaaslike owerhde vir omtrent 4 000 voortvlugtelinge sorg.
Die werker wou anoniem bly uit vrees vir weerwraak van die plaaslike regering.
"Daar is nog duisende mense wat in hotelle en met vriende of familie aan die Chinese kant bly."
Meer omvattende inligting sal binnekort beskikbaar wees, het hy gesê.
Die Yunnan provinsiale regering het in ‘n kort verklaring gesê dat plaaslike owerhede basiese gesondheid en higiëniese fasiliteite aan die vlugtelinge verskaf.
Hull het egter nie melding gegee van die aantal mense betrokke nie.
- Sapa-AP