Duisende verwag by Afgaan se begrafnis
2011-09-23 12:20
Kaboel – Duisende roubeklaers sal na verwagting Vrydag die Afgaanse vredesonderhandelaar Burhanuddin Rabbani se staatsbegrafnis bywoon nadat hy deur ‘n sluipmoordenaar vermoor is.
Rabbani se dood dreig om Afganistan in ‘n vars ronde chaos te dompel.
‘n Sluipmoordenaar met ‘n bom onder sy tulban het Dinsdag ‘n afspraak met die regeringsamptenaar as vredesgesant vir die Taliban bygewoon. Hy het die bom laat afgaan toe hy Rabbani in sy huis in Kaboel gegroet het.
Rabbani was die mees senior nasionale leier om in Afganistan vermoor te word sedert Amerika die land in 2001 ingeval het.
Pres. Hamid Karzai en sy regering bevind hulself nou opnuut met sy rug teen die muur nadat sy broer, Ahmed Wali Karzai, twee maande gelede vermoor is, en die Amerikaanse ambassade verlede week vir 19 ure deur Taliban-vegters aangeval is.
Die diplomatiese gebied in Kaboel het Donderdag veiligheidsmaatreëls in die hoofstad getref vir Vrydag se begrafnis. Amptenare het gesê die seremonie sal om 10:00 in die presidensiële paleis begin en Rabbani sal later op ‘n koppie naby sy huis in Kaboel begrawe word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA