Duisende sterf in China-oorstromings
2010-08-10 09:48
Beijing – 'n Totaal van 2100 mense is dood of word vermis weens die grootste oorstromings wat China in ’n dekade getref het.
Meer as 12 miljoen mense moes na veiligheid geneem word en sowat 1,4 miljoen huise is verwoes.
In die Gansu-provinsie, in die noordweste van die land, het noodwerkers die hele naweek gesoek na oorlewendes nadat modderstortings drie dorpe verwoes het.
Sowat 127 mense is dood.
Sondagoggend vroeg, 24 uur nadat die grondverskuiwings en modderstortings begin het, was die modder in die Zhouqu-omgewing, wat die hardste getref is, op plekke sowat 2 m diep.
Meer as 4 500 noodwerkers, wat soldate, polisiemanne en brandweermanne insluit, soek dag en nag na vermiste mense.
Hulle gebruik selfs hul kaal hande om die modder weg te grou.
“Ons hoor soms tekens van lewe. Selfone wat lui of ’n geroep om help,” het ’n soldaat gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP