Duisende ontruim voor vulkaan uitbars
2011-07-15 14:17
Djakarta – ‘n Vulkaniese uitbarsting het Berg Lokon in Tomohon, Indonesië geruk, het beamptes in dié land gesê.
Volgens die beampte is geen beserings aangemeld nie.
Owerhede het vandeesweek die inwoners oor die vulkaan gewaarsku.
Meer as 2 500 mense wat binne ‘n ontruimingsarea van 3,5 km rondom Berg Lokon in die noordelike deel van die Sulawesi-eiland woon, het die gebied voor die uitbarsting ontruim.
“Ons het die uitbarsting verwag, so ons was voorbereid,” het Farid Rustanda Bina, hoof van ‘n groep wat die vulkaan monitor, gesê.
Volgens die plaaslike regering woon sowat 30 000 mense naby die vulkaan.
‘n Sweedse toeris is in 1991 dood toe dieselfde vulkaan uitgebars het.
Indonesië het 129 vulkane wat aktief is.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA