Duisende in Rome vir saligverklaring van Johannes Paulus II
2011-04-30 23:15
Rome - Duisende jongmense het Saterdag op 'n antieke Roomse veld byeengekom vir 'n deurnag-biddiens ter nagedagtenis aan pous Johannes Paulus II op die vooraand van sy saligverklaring.
Pelgrims met vlae van Pole, Spanje, Duitsland en Brasilië het by Rome se Circus Maximus byeengekom, en die lig van duisende kerse het geskyn terwyl kore van Johannes Paulus se tuisland, Pole, sowel as die Filippyne en Italië gesing het.
Hulle het geluister hoe 'n Franse non wat gely het aan Parkinson se siekte vertel hoe sy van haar siekte genees is ná sy tot Johannes Paulus gebid het, wat ook 'n lang stryd teen die siekte geveg het.
Die Vatikaan het besluit dat dié onverklaarbare genesing van Suster Marie Simone-Pierre's die wonderwerk is wat nodig is om Johannes Paulus as heilige te verklaar.
Die proses van saligverklaring sal Sondag 'n hoogtepunt bereik tydens 'n mis in St. Petrus-plein wat deur pous Benedictus XVI gelei sal word. 'n Wagperiode van vyf jaar geld gewoonlik voor die proses van saligverklaring kan begin, maar pous Benedictus het in die geval van Johannes Paulus weggedoen met dié vereiste weens die oorweldigende publieke opinie ten gunste van die oorlede pous.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP