Duisende buitelandse studente dalk uit Brittanje gesit
2012-08-30 17:31
Londen – Meer as 2 000 buitelandse studente kan moontlik uit Brittanje gedeporteer word nadat hulle universiteit gestroop is van sy regte om visums uit te reik.
Die Londen Metropolitaanse Universiteit het sy spesiale status verloor nadat ‘n opname gevind het dat meer as ‘n kwart van sy buitelandse studente nie toestemming het om in die land te wees nie, het die minister van immigrasie, Damian Green, Donderdag gesê.
‘n “Merkwaardige persentasie” van studente het nie ‘n goeie standaard van Engels nie,” het Green gesê, en daar is in die helfte van gevalle geen bewyse dat studente wat aan die opname deelgeneem het, hul klasse bywoon nie.
“Enige een van daardie oortredings kan ernstig wees,” het Green in ‘n radio-onderhoud met BBC gesê.
“Ons het al drie daardie oortredings by die universiteit gevind.”
Die studente het 60 dae om ‘n nuwe borg te vind, anders kan hulle gedeporteer word.
Opvoeders sê hulle is bekommerd dat dit Brittanje se aantreklikheid vir buitelandse studente kan skade aanrig.
Malcolm Gillies, adjunk-kansellier van die Londen Metropolitaanse Universiteit, sê hy “werk met die beste prokureurs in die land” om die beslissing deur die Britse Grensagentskap te laat omkeer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP