Duisende betoog in Venezuela
2009-09-05 23:51
Caracas, Venezuela – Tienduisende mense het Saterdag deur Venezuela se hoofstad betoog teen wat hulle ‘n groeiende outoritarisme deur president Hugo Chavez noem.
‘n Paar duisend van die president se ondersteuners het ‘n teen-betoging gehou om hul steun van die regering se beleide uit te druk.
Betogers teen Chavez het die strate van Caracas gevul en die inhegtenisneming van opposisielede veroordeel, sowel as ‘n nuwe opvoedkundige wet wat vrees opgewakker het dat kinders by skole geïndoktrineer kan word.
“Dit is baie kommerwekkend want opleiding is Venezuela se toekoms,” het Carlos Delgado, ‘n 23-jarige ingenieurstudent gesê.
“Ons het al 11 jaar van dieselfde gesigte en dieselfde probleme en ons sien geen oplossings nie,” het Delgado gesê.
Carlos Garcia, ‘n 41-jarige administrasiewerker wat die betoging ten gunste van die regering bygewoon het, het gesê dat Venezuela se armer dele baie meer gelykheid onder Chavez gesien het.
Hy het die opposisie se opinie oor die opvoedkundige wet van die hand gewys en gesê hulle mik daarvoor om die sisteem meer inklusief te maak.
- Sapa-AP