Duisende Siriërs vlug na Jordanië
2013-01-22 15:00
Amman – Meer as 12 000 Siriërs, meestal vroue en kinders, het in die afgelope ses dae toevlug in Jordanië gesoek weens die voortslepende konflik in hulle land, het die regering Dinsdag gesê.
Sowat 25 000 Siriërs het Jordanië sedert die begin van die jaar binnegegaan, het Anmar Hmud, die regeringswoordvoerder vir vlugtelinge, aan AFP gesê.
“Meer as 12 000 Siriërs het in die afgelope ses dae na Jordanië gevlug. Die meerderheid van hulle was kinders en vroue,” het Hmud gesê.
“Sowat 25 000 Siriërs het sedert die begin van die jaar die land binnegekom.”
Jordanië sê hy huisves meer as 300 000 Siriese vlugtelinge, terwyl die Verenigde Nasies se vlugteling-agentskap (UNHCR) sê 176 000 van hulle is by die UNHCR geregistreer.
Die VN voorspel dat die aantal Siriese vlugtelinge in naburige lande teen Junie na 1,1 miljoen sal styg as die burgeroorlog in Sirië nie tot ‘n einde kom nie.
Meer as 60 000 mense is reeds dood in die konflik, wat in Maart 2011 uitgebreek het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP