Duiker sterf in haai-aanval in Aus
2011-10-23 13:50
Canberra – ‘n Amerikaanse duiker is dood nadat hy deur ‘n witdoodshaai in Australië aangeval is.
Die 32-jarige man, wie se naam en tuisdorp nie genoem is nie, is die derde mens wat die afgelope paar weke langs die suidwestelike kus van die land ná 'n haai-aanval dood is.
Volgens die polisie het die voorval Saterdag gebeur toe die man alleen gaan duik het.
Sy twee metgeselle het gesien hoe borrels langs die duikboot voorkom en sy lyk na die oppervlak gekom het.
Sers. Gerry Cassidy sê die metgeselle het gesien hoe ‘n 3 m lange witdoodshaai daarna wegswem.
Die aanval het enkele meters noord van die gewilde toeristebestemming Rottnest-eiland plaasgevind. Dié eiland is sowat 18 km wes van die Cottesloe-strand – ‘n gewilde strand in Perth – geleë.
Bryn Martin, ‘n 64-jarige swemmer, is vermoedelik op 10 Oktober by dié strand deur ‘n haai doodgebyt.
Volg Nuus24 op Twitter
- AP