Dubai: Blinde man verbied om te vlieg
2010-10-06 04:11
Dubai - 'n Blinde Amerikaanse reisiger beweer hy is verbied om op 'n vlug in Dubai te klim weens sy gestremdheid.
Maar volgens die lugredery, FlyDubai, het hulle 'n fout begaan.
Zuhair Mahmoud sê sy probleme het begin toe hy hom wou inboek.
"Hulle het na my gekyk en gesê ons kan jou nie op die vlug akkomodeer nie, omdat jy alleen reis," het Mahmoud aan AP vertel.
Volgens Mahmoud het hy by die personeel gepleit en hulle gevra om toestemming by hul seniors te kry. Maar daar was aan hom gesê hulle kan niks doen nie omdat dit een van die lugredery se reëls is dat 'n blinde persoon moet deur iemand op die vlug vergesel word.
Mahmoud het die lughawe verlaat en by 'n broer se huis gaan woon totdat hy 'n ander vlug kon kry.
Die uitvoerende hoof van die lugredery het gesê hy is jammer oor die voorval.
"Die lugredery diskrimeer nie teen blinde mense of diegene met spesiale behoeftes nie.
FlyDubai het belowe om Mahmoud op 'n ander vlug te boek wat hom sal pas en het hom ook 'n gratis vliegtuigkaartjie aangebied.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- AP