Dronk 'nar' jaag in polisiekar vas
2009-10-28 16:18
Vancouver – As die feit dat jy in ‘n hansworskostuum roekeloos agter die stuur sit nie genoeg is om polisie agterdogtig te maak oor of jy gedrink het nie, sal jy hulle vermoedens bevestig as jy in ‘n polisievoertuig vasjaag.
Dít is die moeilike les wat ‘n man van Vancouver moes leer toe polisie hom aan die verkeerde kant van die pad sien bestuur het. Hy het later gesien dat die bestuurder in ‘n helderkleurige hansworskostuum geklee is.
‘n Polisiebeampte was besig met ‘n soektog na verdagtes wat glo in ‘n bakleiery betrokke was toe hy die man aan die verkeerde kant van die pad sien aankom het.
Die polisieman het sy eie voertuig tot stilstand gebring om die motor van die pad af te trek. Hy het sy noodligte aangeskakel om die bestuurder te waarsku, maar die nar het kop-aan-kop met die polisieman se voertuig gebots.
Die man (29) sal aangekla word van dronkbestuur, maar niemand is tydens die voorval beseer nie.
“Hy sal goeie verduidelikings aan die hof moet voorlê,” het die polisieman in ‘n verklaring gesê.
- Reuters