Dronk man maak bier oop ná ongeluk
2010-06-23 10:34
Wellington, Nieu-Seeland - 'n Dronk bestuurder wat in sy motor vasgekeer was ná dit omgeslaan het, het 'n bier oopgemaak terwyl hy op paramedici gewag het, "omdat hy niks beter" gehad het om te doen nie, het die hof gehoor.
Paul Nigel Sneddon (47) van Palmerston North het ná sy hofverskyning aan die Dominion Post gesê: "Ek het daar gelê, probeer om die deure oop te maak, maar ek kon nie. Ek onthou die binnelig het nie gewerk nie en ek het gedink, dis nie asof ek 'n boek gaan lees nie, toe maak ek nog 'n blikkie oop."
Sneddon, wat aan 'n polisieman gesê het hy het vier dae lank gedrink, se alkoholvlak was vier keer oor die wettige limiet.
Hy is 'n boete van $770 (sowat R5800) opgelê en mag vir tien maande nie bestuur nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- AP