Dronk Aussie probeer op krokodil se rug ry
2010-07-13 16:44
Sydney - 'n Australiese man is gelukkig om nog lewendig te wees nadat hy in sy dronkenskap oor die hek van 'n krokodilplaas gespring en op 'n 5m lange krokodil, Fatso, se rug probeer klim het, het die polisie Dinsdag gesê.
Die 36-jarige man het laat Maandagaand oor die hek gespring nadat hy by 'n kroeg uitgegooi is in die noordwestelike stad van Broome.
Hy het daarna probeer om op die rug van die massiewe soutwater-reptiel te gaan sit.
"Hy het eers by die hok ingeklim waar twee vroulike krokodille was, voordat hy 'n 5m lange mannetjie, Fatso, genader het," het 'n polisiewoordvoerder aan AFP vertel.
"Die man is aan sy regterbeen gebyt terwyl hy op sy rug wou gaan sit. Hy het ontsnap en teruggekeer na die kroeg toe, waar die ambulans geskakel is."
Hy het 'n operasie ondergaan vir die ernstige skade wat aan sy been gerig is.
Die eienaar van die park, Malcolm Douglas, sê die man is gelukkig dat hy die noue ontkoming met die 800 kg krokodil oorleef het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA