Drie sterf toe skip teen veerboot bots
2011-10-20 13:12
Tirana – Minstens drie mense is dood toe ‘n skip teen ‘n veerboot naby die Albanese kus gebots het, het ‘n beampte gesê.
Edmond Doraci, ‘n beampte by die Durres-hawe in Albanië, sê die botsing het vroeg Donderdagoggend gebeur.
“Die voorval het gebeur toe die Maltese skip, wat deur ‘n Turkse burger besit word, teen ‘n veerboot op die roete tussen Durres (Albanië) en Bari (Italië) gebots het,” het Doraci aan AFP gesê.
Doraci kon nie inligting oor die slagoffers se nasionaliteite verskaf nie.
Die voorval het in die Adriatiese See naby die Durres-hawe plaasgevind.
Volgens Doraci is polisiebeamptes en die vloot se reddingspanne na die toneel ontbied.
Hy het bygevoeg dat die spanne minstens twee mense kon red. Die oorlewendes is na ‘n hospitaal in Durres geneem.
Luidens berigte het die skip minstens tien mense aan boord gehad. Bronne het geen melding van die veerboot se passasiers gemaak nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP