Drie passasiers vas oor '9/11 se spoke'
2011-09-14 09:01
Washington DC – ’n “Half Arabiese, half Joodse huisvrou” is een van drie vliegtuigpassasiers wat op die tiende herdenking van die 9/11-terreuraanvalle in hegtenis geneem is omdat hulle glo verdag gelyk het.
Shoshana Hebshi, ’n nagraadse joernalistiekstudent in die deelstaat Iowa, het Maandag oor haar ervaring geblog.
Sy het Sondag op die Frontier Airlines-vlug van Denver, Colorado, na Detroit, Michigan, langs twee Indiese mans gesit. Die drie het mekaar nie vooraf geken nie.
Hebshi het nooit haar sitplek verlaat nie, maar die twee mans het blykbaar gelyktydig opgestaan om die badkamer te gebruik.
Luidens verskeie berigte het ’n ander passasier hul gedrag as verdag aangemeld.
Vlugpersoneel het gerapporteer dat daar twee mense is wat “besonder lank” in die badkamer is, het AP berig.
In reaksie daarop is twee F16- vegvliegtuie gestuur om die vliegtuig tot by Detroit se Metropolitan-lughawe te begelei.
Hebshi het op haar blog geskryf die vliegtuig moes eers na ’n ander deel van die lughawe skuif.
“Die kaptein het oor die luidspreker gesê almal moet in hul sitplekke bly of daar sal nagevolge wees. Dit het ernstig geklink.”
Sy het gesien hoe verskeie polisievoertuie die vliegtuig volg. ’n Groep van sowat tien polisielede het na die vliegtuig gestorm. Die passasiers is beveel om hul hande op die sitplekke voor hulle te sit. Hebshi het oor die gebeure getweet – totdat die polisielede op haar en die twee mans langs haar geskree het om op te staan. Hulle is geboei en van die vliegtuig gelei.
Hebshi is na ’n sel geneem, waar sy verskeie ure aangehou is. Sy is deur die FBI ondervra en moes haar kaal uittrek sodat ’n polisievrou haar kon deursoek.
Die FBI en die polisie was oorwegend beleefd teenoor haar, het Hebshi geskryf. Sy en die twee mans is uiteindelik laat gaan.
Een FBI-agent het haar om verskoning gevra vir die ongerief en bedank vir haar samewerking.
“Dis 9/11 en mense sien spoke,” het hy glo gesê.
Nóg ’n vlug, van Los Angeles na New York, is ondersoek nadat drie passasiers glo herhaaldelik die badkamer besoek het.
ABC News het vroeër berig dat die oproer oor die Denver-Detroit-vlug veroorsaak is omdat twee passasiers glo in die badkamer gekafoefel het.
Die FBI het dit ontken. – Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger