Drie jong susters in Indië verkrag, vermoor
2013-02-20 10:52
Moembaai – Drie susters wat tussen ses en 11 jaar oud is, is verkrag en vermoor voordat hul lyke in ‘n put in ‘n plattelandse dorp in die weste van Indië gegooi is, het die polisie Woensdag gesê.
Die lyke van die drie skoolmeisies is verlede week gevind. Hulle het op 14 Februarie vermis geraak uit hul huis in die Bhandare-streek van die Maharashtra-staat, het supt. Aarti Singh aan AFP gesê.
“Die drie jong meisies se lyke is in ‘n put gevind, saam met hul skoolsakke en skoene,” het Singh telefonies uit Nagpur aan AFP gesê.
Die meisies was onderskeidelik ses, nege en 11 jaar oud.
“Die nadoodse ondersoek het bevestig dat die meisies verkrag en toe vermoor is.”
Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar volgens Singh is vier mense in aanhouding vir ondervraging en ondersoeke duur nog voort.
Familielede het gesê die meisies het uitgegaan om na hul ma te soek nadat sy by die huis weg is. Niemand het weer van hulle gehoor nie.
Die moorde het tot betogings deur inwoners van die dorp gelei, het Singh gesê, wat herinner aan betogings in die hoofstad Nieu-Delhi nadat ‘n 23-jarige student in Desember op ‘n bus deur ‘n groep mans verkrag en later dood is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP