Drie dood toe 'moordenaar' in hospitaal toeslaan
2011-07-16 22:09
Londen – Die Britse polisie was Saterdag op soek na 'n moordenaar ná die onverklaarbare dood van drie pasiënte in 'n hospitaal in die noord-weste van Engeland.
Die ondersoek volg ná drie pasiënte by die Stepping Hill-hospitaal in Stockport naby Manchester gesterf het toe soutoplossings glo vol insulien gespuit is.
"Ons het iemand wat met opset met soutoplossings peuter in die een plek waar mense behoort te voel daar word die beste na hulle omgesien," het Terry Sweeney van die Manchester-polisie gesê.
"Ons is vasbeslote om verdere skade te verhoed en om die skuldige aan te keer."
Insulien is in ampules met soutoplossings gevind ná 'n verpleegster besef het meer pasiënte as gewoonlik sukkel met lae bloedsuikervlakke in haar saal, het die polisie gesê.
'n 44-jarige ma van twee is op 7 Julie dood en twee mans van 71 en 84 is in die afgelope week dood.
Die polisie vermoed die insulien is opsetlik in die houers met die soutoplossing gespuit.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP