Drie dood ná man omstanders met mes steek
2013-02-13 14:19
Guam – Drie mense is dood en 11 beseer toe ‘n motoris in ‘n toeristegebied van Guam skielik begin het om mense met ‘n mes te steek, het die polisie Woensdag gesê.
Die meeste van die slagoffers was Japannees.
Die aanval het laat Dinsdag plaasgevind toe ‘n man met sy motor by ‘n sypaadjie naby die Outrigger Guam-oord opgery en teen ‘n kruidenierswinkel tot stilstand gekom het. Hy het uit sy motor gespring en omstanders begin steek.
Volgens die polisie is ‘n 20-jarige man, wie se naam nog nie bekendgemaak is nie, ná die aanval in hegtenis geneem, maar hulle weet nog nie wat die motief vir die aanval was nie.
“Hy het uit die motor geklim en mense begin aanval. Dit was vreesaanjaend,” het Lendi Cruz, ‘n getuie, gesê.
Beamptes kon nie die identiteit van die slagoffers onmiddelik bevestig nie, maar plaaslike mediabronne het berig dat baie van die beseerdes van Japan afkomstig was. Guam is 'n gewilde bestemming vir toeriste van Japan.
Die Pacific Daily News het berig dat minstens twee van die beseerdes babas is, terwyl ‘n woordvoerder vir die Guam Gedenkhospitaal aan die Australiese Uitsaaikorporasie gesê het dat die slagoffers se ouderdomme van agt maande tot 82 jaar wissel.
– Volg Nuus24 op Twitter