Drie beseer toe seun geweer skool toe vat
2011-04-19 22:00
Houston (Amerika) - ‘n Amerikaanse leerling het ‘n geweer na sy laerskool gebring en was onder drie leerders wat beseer is deur fragmente toe die geweer tydens pouse uit sy broeksak geval het en ‘n skoot afgevuur is.
Een koeël is omstreeks 11:00 in die skool in Houston, Texas, se kafeteria afgevuur en het daartoe gelei dat verskeie leerlinge deur fragmente getref is, het ‘n polisiebeampte, Robert Mock, gesê.
“Dit is óf stukkies van die vloer óf stukkies van die koeël wat hulle getref het,” het Mock gesê. “Hulle het ‘n paar lelike snye en merke aan hul bene gehad, maar die beserings is nie lewensgevaarlik nie.”
Twee sesjarige seuns, insluitende die een wat die geweer gebring het, is in die voet gewond, het Jason Spencer, ‘n polisiewoordvoerder, gesê. ‘n Vyfjarige meisie het ook ‘n voetbesering opgedoen.
Beeldmateriaal van die Houston-gebaseerde televisiekanaal KPRC het getoon hoe drie kinders op draagbare na ambulanse gedra word. Al drie het regop gesit en met die noodpersoneel gepraat.
Ontstelde ouers het hulle na die toneel gehaas.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP