Drie Suid-Koreane in Filippyne ontvoer
2011-11-07 15:14
Manila – Filippynse amptenare het Maandag gesê hulle is op soek na drie Suid-Koreaanse mans wat in die suide van die land ontvoer is.
Die drie is laas op 21 Oktober gesien toe hulle ‘n hotel in die suidelike handelstad Cagayan de Oro saam met drie Filippynse gidse verlaat het, het die streek se polisiedirekteur, Felicisimo Khu, gesê.
“Die ontvoerder het kontak gemaak deur die (ontvoerdes se) selfone te gebruik,” het Khu in ‘n verklaring gesê.
Khu het nie bekendgemaak wie die ontvoerders was, wat hulle eise is of met wie hulle in kontak getree het nie.
Hy het wel gesê die polisie vermoed dat hulle in Lanao del Sur, ‘n provinsie met digte woude sowat 50 km van Cagayan de Oro, aangehou word. Die gebied is berug vir ‘n verskeidenheid gewapende groepe wat daar gevestig is.
Volgens ‘n ander plaaslike polisiehoof, senior supt. Orlando Benas, was die drie mans op soek na mynbou-geleenthede.
‘n Amptenaar van die Suid-Koreaanse ambassade se mediakantoor in Manila het geweier om Maandag kommentaar te lewer oor die drie vermiste mans.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP