Drie Chinese mynwerkers ná agt dae gered
2009-10-25 08:19
Beijing - Reddingswerkers het Sondag drie mynwerkers in die noorde van China uit 'n steenkoolmyn gered nadat hulle agt dae lank daar vasgekeer was.
Die mans was in 'n stabiele toestand nadat hulle uit die myn in Shenmu gered is, het die Xinhua nuusagentskap gesê. Mediese personeel het die werkers in dik baadjies toegedraai en na die hospitaal gejaag.
Daar het 27 werkers in die Yongxing Gaozhuang Steenkoolmyn gewerk het toe 'n skag op 17 Oktober inmekaar getuimel het. Altesaam 24 werkers het daarin geslaag om te ontsnap.
Die drie werkers wat ondergrond vasgevang was, het 'n plek gevind waar daar ventilasie en 'n waterbron was wat hulle vir ses dae aan die lewe gehou het totdat reddingswerkers 'n kanaal kon boor vir kos en drinkwater, het Xinhau berig.
Reddingswerkers kon uiteindelik Sondag by die mynwerkers uitkom nadat hulle 'n tonnel tot by hulle gegrawe het. 'n Ondersoek na die oorsaak van die ongeluk is onderweg.
China se myne bly onder die gevaarlikstes in die wêreld.
- Sapa