Drastiese uittog van Rooms-Katolieke
2010-04-22 08:42
Leopold Scholtz, Die Burger
Den Haag - In Duitsland steier die Rooms-Katolieke Kerk onder die pedofilie-skandaal. Luidens ontledings wat Woensdag in die Duitse media verskyn het, het die uittog uit die Katolieke Kerk drasties toegeneem.
Die Duitse stelsel maak dit moontlik om dit noukeurig te kwantifiseer.
Sedert die laat 19de eeu beskou die staat alle Duitse inwoners outomaties as lid van ’n kerk van hul keuse. Hul kerkgeld word elke maand saam met hul inkomstebelasting afgetrek en aan die kerke oorbetaal, pleks van die stelsel van vrywillige bydraes wat in ander lande geld.
Mense moet die staat amptelik in kennis stel dat hulle uit die kerk bedank, waarna hul kerkgeld nie meer afgetrek word nie. Op dié manier word presies boekgehou van hoeveel lidmate die verskillende kerke het.
Die ontledings wys dat die uittog, wat weens die sekulariseringsproses al lank reeds aan die gang is, in die laaste maande aansienlik toegeneem het.
Statistieke vir die bisdomme van Freiburg, Regensburg (waar pous Benedictus XVI vroeër ’n professor in teologie was), Keulen, Stuttgart, Würzburg, Augsburg, Neurenberg en Berlyn wys die getal mense wat die kerk in die eerste kwartaal van vanjaar verlaat het, het met tussen 200% en 400% toegeneem.
Daarenteen wys die syfers ook dat die uittog uit die Protestantse kerke in dieselfde tyd juis afgeneem het, ofskoon dit nie omgekeer is nie.
In Neurenberg, Düsseldorf, Hamburg, Keulen, Bremen en Frankfurt het die getal mense wat uit die Evangelies-Lutherse Kerk bedank het, met tussen 20% en 50% afgeneem.
- Die Burger