Dorp verkoop slaggate in strate
2010-03-05 09:07
Leopold Scholtz
Den Haag – ’n Dorp in die Duitse deelstaat Turinge gaan slaggate in sy strate teen €500 elk (sowat R5 000) verkoop.
Luidens berigte in die Duitse media het die burgemeester van Niederzimmern (met 1 063 inwoners), Christoph Schmidt-Rose, aan ’n plaaslike radiostasie gesê die afgelope winter was só straf dat dit talle slaggate in die strate laat ontstaan het.
Om die hele dorp opnuut te laat teer, sal sowat €500 000 (sowat R5 miljoen) kos, maar die munisipaliteit het eenvoudig nie soveel geld nie.
Die plaaslike koerantjie, die Frankenpost, het die storie onmiddellik opgevolg en kort voor lank het die meeste nasionale media ook op die wa gespring.
Schmidt-Rose het aan die Frankenpost gesê ’n paar dorpsbewoners het reeds gehoor gegee aan die aanbod.
Dit is ook op die dorp se webwerf geadverteer, onder meer in Engels, sodat buitelanders ook gate kan koop.
Die idee is om die koper se naam – of ’n ander teks – op ’n plakket aan te bring wat aangebring sal word in die teer waarmee die gat gevul word. Selfs advertensies sal toelaatbaar wees.
Luidens berigte het tot 40% van Duitsland se paaie in die winter skade opgedoen.
-Die Burger