'Dooie' motoris veg om sy lewe
2012-04-02 11:00
Australië – 'n Ondersoek is Maandag van stapel gestuur nadat 'n man wat in 'n ongeluk betrokke was, deur Australiese paramedici dood verklaar is en 'n uur later weer lewend gevind is.
Die bestuurder, wat in 'n woonbuurt in Melbourne in die wrak van 'n Porsche vasgekeer was, is dood verklaar nadat hy op die toneel mediese behandeling ontvang het.
Die Australiese Uitsaaikommissie het gesê die man was, ná ambulanse die toneel verlaat het, nog vir 'n uur lank in die motor vasgekeer terwyl die polisie met hul ondersoek begin het.
Vrywillige werkers van die nooddienste, wat die man se lyk uit die wrak wou verwyder, het egter vasgestel dat hy 'n baie flou pols het.
'n Ambulans is wéér na die toneel ontbied en die 30-jarige man is in 'n kritieke toestand na 'n hospitaal geneem.
Ambulance Victoria het gesê hy is tans besig met 'n ondersoek oor hoe die twee paramedici so 'n fout kon begaan.
"Dit is twee ervare paramedici, maar hulle het 'n fout begaan en ons sal saam met hulle deur dit werk," het Simon Thomson, woordvoerder, gesê.
Hy het gesê die bestuurder het erge kopbeserings opgedoen.
Thomson wou egter nie kommentaar lewer oor of die paramedici se fout die man se kans op oorlewing kan beïnvloed nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.