Doofstom man sit 15 jaar, eintlik onskuldig
2011-06-02 17:02
Perth – ‘n Doofstom man wat 15 jaar in die tronk deurgebring het, het Aus$425,000 (sowat R2,7 miljoen) ontvang nadat hy verkeerdelik van moord veroordeel is.
Darryl Beamish (69) is destyds daarvan aangekla dat hy Jillian Brewer, ‘n bekend sosiale vlinder van Perth, Australië, in 1959 vermoor het.
Dit is destyds beweer dat hy haar met ‘n strydbyl en ‘n skêr doodgemaak het.
Beamish, wat aanvanklik gehang sou word, is later skuldig bevind en tronkstraf opgelê.
Hy het reeds 15 jaar van sy vonnis uitgedien toe hy vir die sesde keer geappelleer het en van die misdaad verwyder is.
Die hof het uiteindelik in 2005 ‘n skulderkenning van Eric Edgar Cooke aanvaar. Cooke, een van Australië se mees berugte moordenaars, het in 1964 al erken dat hy Brewer vermoor het.
Cooke het Perth tussen 1959 en 1963 geteister en agt mense in dié tyd vermoor.
Christian Porter, prokureur-generaal van Wes-Australië, sê Beamish, wat sedert sy geboorte doofstom is, het Donderdag sy betaling ontvang.
Die betaling is nie bedoel om hom ten volle te vergoed vir die verlies wat hy gely het nie. Die betaling is veronderstel om die staat se opregte spyt oor die voorval te bewys, het Porter gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP