'Doodgebore' baba toe lewendig in plastieksak
2011-11-04 11:11
Beijing – ‘n Hospitaal in China het vier van sy werkers geskors na hulle ‘n lewende baba doodgebore verklaar het en van hom soos ‘n lyk ontslae geraak het.
Gesondheidsamptenare in die stad Foshan het ‘n ondersoek van stapel gestuur oor die voorval by die Nanhai Rooikruis-hospitaal, het Beijing News berig.
Liu Dongmei was agt maande swanger toe sy hospitaal toe is met interne bloeding en maagkrampe.
Sy het aan haar kind geboorte gegee, maar hy het nie asem gehaal of gehuil nie, lui die berig.
Die mediese span het glo die kind dood verklaar en van die liggaam ontslae geraak sonder om die hospitaal se protokol te volg, lui die berig.
Liu se skoonsuster het sowat ‘n halfuur na die geboorte gevra om die kind se liggaam te sien. Die mediese personeel het haar ‘n geel plastieksak gegee waarin sy die kind lewendig gevind het, het koerant Foshan News berig.
“Ek het die plastieksak oopgemaak en die baba se hande en voete sien beweeg,” het sy gesê. “Die kind het probeer asem skep.”
Sy was ook geskok omdat die baba ‘n seuntjie was en nie, soos die mediese span wat die kind dood verklaar het gesê het, 'n dogtertjie nie.
Volgens Foshan News het hulle dié feit verdraai om die dood van haar kind te verbloem in ‘n land waar seuntjies dikwels die enigste erfgenaam kan wees.
Die hoof van die kraamafdeling, ‘n dokter en twee verpleërs is vir die duur van die ondersoek geskors.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP