Dokters verwyder 28 spykers uit meisie se lyf
2011-11-16 14:52
Makassar – Dokters in die ooste van Indonesië het die laaste 28 spykers uit ‘n driejarige meisie se bene en rug verwyder.
Sekere inwoners en beamptes van Makassar op die Sulawesi-eiland glo dié saak word aan heksery gekoppel.
Daar word berig dat dokters reeds tientalle geroeste spykers, gebreekte spuitnaalde en aluminiumstawe uit die meisie se bene gehaal het voordat hulle Dinsdag ‘n spyker naby aan haar ruggraat verwyder het.
“Die meisie herstel van die operasie en is algeheel in ‘n goeie toestand...” het die meisie se chirurg, Kamaruddin, Woensdag gesê.
X-strale wat in September geneem is, het die voorwerpe in die meisie se bene en rug gewys.
Plaaslike inwoners glo dié voorwerpe is deur middel van towerkuns in haar lyf geplaas.
Syahrul Yasin Limpo, goewerneur van die Sulawesi-provinsie, het die slagoffer besoek en sê hy is vas oortuig dat die saak met heksery te doen het.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP