Dokters sal siek baba laat sterf
2009-11-11 05:49
Londen – ‘n Sieklike baba wat die middelpunt was van ‘n hewige hofsaak tussen sy ouers in Brittanje sal nou toegelaat word om te sterf.
Dié eenjarige seuntjie se ma en sy dokters wou die ventilator afskakel wat hom aan die lewe gehou het, maar sy pa het eers geweier. Hy het wel nou ingestem dat die masjiene afgeskakel word sodat sy seun nie meer hoef te ly nie.
Die baba se pa, wat van sy vrou geskei is, het in die hooggeregshof in Londen vir sy seun se lewe geveg. Volgens hom kon sy kind nog sien, hoor, voel en duidelik sy ouers herken.
“Almal stem nou saam dat dit die beste vir die kind sal wees dat die ventilator afgeskakel word,” het regter Andrew McFlarne, gesê terwyl beide ouers sonder troos gehuil het.
“Dit is byna onmoontlik vir ons om te verstaan wat hierdie ouers nou moet deurmaak. Maar hierdie besluit is die beste vir die kind. Dit is baie hartseer maar onvermydelik,” het McFlarne gesê.
Die seun is glo gebore met ‘n spierswakte-toestand wat sy asemhaling aantas en hom byna verlam laat. Hy is sedert sy geboorte in Oktober verlede jaar aan ‘n ventilator gekoppel.
–Sapa, AFP