Dogtertjie uit polisiestasie ontvoer
2009-12-20 17:00
Londen – Britse polisie was Sondag op soek na ‘n 18-maande-oue dogtertjie wat by die polisiestasie deur ‘n onbekende vrou geneem is nadat sy amptenare oortuig het dat sy ‘n vriendin van die kind se ma is.
Die Ghanese dogtertjie, Audrey Kessie Nyanor, is Donderdag van ‘n polisiestasie in Londen geneem.
Haar ma, 36, is daardie dag in Southwark, suidoos Londen, in hegtenis geneem oor beweerde immigrasie oortredings.
‘n Vrou wat beweer het dat sy ‘n vriendin van die ma was, het na die polisiestasie gegaan en is toegelaat om die dogtertjie saam met haar te neem.
Die polisie het CCTV-beeldmateriaal vrygestel van die vrou wat met Audrey uitstap.
Londen se polisie het ‘n interne ondersoek geloods en die polisie-aghond ondersoek ook die saak.
“’n Vrou het na die polisiestasie gegaan en gesê dat sy ‘n 46-jarige vriendin van die ma is,” het ‘n polisie woordvoerder gesê.
“Die besonderhede wat sy gegee het, het ooreengestem met die persoon wat Audrey se ma gesê het haar dogtertjie gaan kom haal. Sy het gevolglik die polisiestasie om 10:40 saam met die kind verlaat.”
“Dit het gevolglik duidelik geword dat die vrou nie dieselfde persoon was waarmee daar gereël was om die kind te kom haal nie.”
“Gevolglik het ‘n polisie-ondersoek begin om Audrey te vind en om die vrou wat haar geneem het te identifiseer.”
- Sapa-AFP