Dogtertjie (3) oorleef op oorskiet ná ma sterf
2011-11-04 14:16
Wellington – ‘n Driejarige Nieu-Seelandse dogtertjie moes haarself twee dae lank met ‘n teddiebeer troos en oorskietkos eet na haar ma onverwags in haar huis dood is.
Die dogtertjie se oom, Pete Silbery, het gesê jong Shylah Silbery kon die yskas oopkry en iets te eet kry, maar haar enigste geselskap was haar teddiebeer Possum.
Die familie het op 19 Oktober laas met haar ma, Lauren, kontak gehad en die bekommerde familie het ‘n vriend gebel om by die huis aan te doen.
Die vriend het die polisie in kennis gestel toe hy Shylah in die huis kon sien, maar nie haar ma nie.
Polisielede het Shylah gesê om ‘n koffietafel nader te sleep sodat sy by die deur se slot kon bykom.
“Mamma wil nie wakker word nie,” het sy aan die polisie gesê.
“Ek kan my net indink hoe dit vir haar moes wees om haar ma te probeer wakker maak,” het Pete Silbery gesê.
Shylah het 'n paar dae in die hospitaal deurgebring en herstel van dehidrasie en ‘n velirritasie wat ontwikkel het omdat haar doek nie omgeruil is nie.
“Dit gaan beter met haar,” het mnr. Silbery gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AP