Dodetal van aardbewing in Indië, Nepal styg
2011-09-20 12:25
Nieu-Delhi – Die sterftesyfer van die sterk aardbewing wat Sondag die grens tussen Indië en Nepal getref het, het tot 83 gestyg, het beamptes Dinsdag gesê.
Daar word berig dat groot dele van die geaffekteerde gebiede as gevolg van grondstortings ontoeganklik is.
Minstens 50 mense is dood in Indië se noordoostelike staat Sikkim, het R.K. Singh van die departement van binnelandse sake, op ‘n mediakonferensie in Nieu-Delhi gesê.
Altesaam 18 mense het in naburige Indiese state gesterf weens vallende geboue en grondstortings.
Volgens die polisie het agt mense in Nepal omgekom. Die Chinese nuusagentskap Xinhua berig sewe mense is in die suide van Tibet dood.
Die skuddings van die aardbewing wat 6.9 gemeet het, kon meer as 1 000 km ver in Nieu-Delhi na die weste en ook in Bangladesj na die ooste gevoel word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP