Dodetal styg steeds in Indonesië
2013-01-19 08:47
Fotogalery - Vloede in Djakarta
klik op klein foto bo om groter prentjie te sien
Djakarta – Reddingswerkers het die lyke van nog vier vloedslagoffers in die Indonesiese hoofstad Djakarta gevind, wat die dodetal in die stad op 15 te staan bring.
'n Polisiewoordvoerder, wat net as ene Rikwanto geïdentifiseer is, het gesê drie lyke is Vrydag uit die water getrek, terwyl die oorskot van 'n slagoffer wat sedert Donderdag in 'n oorstroomde parkeerterrein vasgekeer was, vroeg Saterdag gevind is.
"Die dodetal weens vloede in Djakarta het tot 15 gestyg. Reddingswerkers sukkel steeds om 'n ander man te vind, wat glo in 'n gebou se parkeerterrein vasgekeer is," het hy aan AFP gesê.
Hy het bygevoeg dat skubaduikers Vrydag daarin geslaag het om twee mans te red wat meer as 24 uur in vloedwater in die kelderverdieping van 'n gebou vasgekeer was.
Die vloede is die ergste in die hoofstad sedert 2007, toe ongeveer 50 mense dood en meer as 300 000 ontwortel is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP