Dodetal styg ná gebou in Beiroet ineenstort
2012-01-17 21:55
Beiroet – Die sterftesyfer nadat ‘n gebou in die Libanese hoofstad ineengestort het, het tot 27 gestyg, het ‘n beampte vir die Rooi Kruis gesê.
Georges Kettaneh van die Rooi Kruis het aan AFP bevestig dat hy 27 lyke by die toneel gevind het.
Hy het bygevoeg dat die departement van binnelandse sake reddingspogings afgelas het.
Kettaneh kon nie bevestig hoeveel mense in die ses-verdieping-gebou in Beiroet was toe dit Sondagaand ineengestort het nie. Hy sê 12 mense is in die voorval beseer.
Agt ander mense het ontsnap voordat die gebou inmekaargesak het.
Libanese, Soedannese, Filippyners, Egiptenare en ‘n familie van Jordanië is onder die oorledenes.
Raymond Khattar van die land se burgerbeskerming het aan AFP gesê dat die gebou glo sowat 50 mense gehuisves het. Talle van die inwoners was werkers van Soedan en Egipte.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP