Dodetal ná vulkaniese uitbarsting styg na 29
2010-10-28 03:15
Indonesië – Die dodetal ná die vulkaniese uitbarsting van Mount Merapi in Indonesië het Woensdag na 29 gestyg, insluitende ‘n man wat bekendgestaan het as die vulkaan se spirituele wag, het amptenare gesê.
Die tradisionele wag, Mbah of oupa Marijan, is dood in sy afgebrande huis sowat vier kilometer van die piek aangetref, het plaaslike amptenare gesê.
“Sover is 29 mense dood. Meeste van hulle het 45 tot 90 persent brandwonde op hul liggame gehad en was in vulkaniese as bedek,” het Banu Hermawan, woordvoerder vir Sardjito-hospitaal in Yogyakarta gesê.
Geen uitbarstings is sedert Dinsdag aangemeld toe Mount Merapi, wat “berg van vuur” beteken, sowat 10 keer stomende gas en lawa in die lug opgestuur het, het ‘n kenner gesê.
“Alhoewel Merapi nog nie weer sedert gister uitgebars het nie, moet mense eerder in skuilings bly,” het die vulkanoloog Surono gesê.
Amptenare het moontlik baie lewens gered toe hulle Maandag duisende mense uit ‘n 10 kilometer gevaarsone laat vlug het.
Volgens amptenare het sowat 29 000 mense na tydelike skuilings rondom die nabygeleë stad Yogyakarta gevlug, maar daar heers nog vrese vir die duisende wat weier om te skuif.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP