Dodetal kan styg ná verhoog ineenstort
2011-08-15 08:02
Indianapolis – Minstens vier mense is dood nadat ’n verhoog eergisteraand op die Indiana-feesterrein in dié Amerikaanse stad ineengestort het.
Nog sowat 24 mense, onder wie ’n sewejarige kind, is beseer in die instorting wat deur ’n erge windstorm veroorsaak is.
Dit het kort voor 21:00 plaasgevind, enkele minute ná ’n aankondiging om mense te waarsku teen ’n naderende storm en oor hoe om in ’n noodgeval op te tree.
Die organiseerders het ten tyde van die voorval die verhoog reggekry vir ’n konsert deur die groep Sugarland wat kort daarna sou begin.
Sara Bareilles het net klaar opgetree toe die verhoog ingeval het.
“Ek is sprakeloos en voel so hulpeloos. Bid asseblief vanaand vir die mense van Indianapolis. My hart is seer oor die lewens wat verloor is,” het sy getwiet.
Ander bekendes, onder wie Kelly Clarkson en Daughtry, het ook hul meegevoel op Twitter betoon.
Histeriese toeskouers het in die stof en reën van die verhoog weggehardloop, maar ander konsertgangers het in die rigting van die verhoog gehardloop om diegene wat onder swaar pilare en ligte vasgekeer was te bevry.
Baie van dié wat beseer is, was in die gedeelte wat vir baie belangrike mense afgesper was.
Ooggetuies het aan AFP gesê hulle het baie mense met nekbeserings en gebreekte bene gesien.
Volgens Dave Bursten, polisiewoordvoerder, kan die dodetal nog toeneem.
Nooddienswerkers het lank gewerk om die vasgekeerde mense van onder die verhoog te bevry en het van hulle ’n entjie van die verhoog af behandel voordat hulle na plaaslike hospitale gebring is.
Hulle het ook aangehou om die feesterrein te deursoek om seker te maak daar is nie nog beseerde konsertgangers nie.
Volgens die aanlyntydskrif ew.com is Janet Jackson, Train, Maroon 5 en Lady Antebellum geskeduleer om binne die volgende week ook op die fees op te tree, maar dit is nie duidelik of dié konserte sal voortgaan nie.
– Sapa-AFP-AP
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad