Dodetal in Karachi styg ná bomontploffings
2012-09-19 14:16
Karachi – Die dodetal ná twee bomontploffings in Karachi, wat die polisie vermoed 'n Moslem-sekte geteiken, het Woensdag tot sewe gestyg.
Twee bomme het Dinsdagaand drie minute ná mekaar in Pakistan se Hyderi-mark ontplof. Ses mense is aanvanklik dood en 25 ander het beserings opgedoen.
Die dodetal het Woensdag na sewe gestyg nadat een van die beseerdes oornag aan haar beserings beswyk het, het Kamaluddin Shaikh, provinsiale gesondheidsbeampte, aan AFP gesê.
Aslam Khan, senior polisiebeampte, het gesê ondersoekbeamptes vermoed die Bohra-gemeenskap was die teiken van die ontploffings omdat hulle baie van die winkels en huise in die gebied besit.
"Hulle is 'n vreedsame gemeenskap in Karachi en meeste van hulle besit hul eie ondernemings. Ons is besig met 'n ondersoek om vas te stel hoekom hulle geteiken was," het hy gesê.
Karachi, Pakistan se grootste stad, gaan gebuk onder sektariese, etniese en politieke geweld met minstens 1 100 mense wat jaarliks in aanvalle sterf.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP