Dodetal van Himalaja-aardbewing styg tot 104
2011-09-22 13:06
Mangan – Die sterftesyfer van verlede naweek se aardbewing wat die Himalaja-streek getref het, het tot 104 gestyg nadat reddingswerkers dorpe in noordoostelike Indië se afgeleë, bergagtige streek bereik het.
Hewige reën, modderstortings en versperde paaie wat na dorpe lei het die onlangse reddingspogings belemmer.
Daar word berig dat Sondagaand se aardbewing 6.9 gemeet het.
R. Sahu, woordvoerder vir die Indiese lugmag, sê reddingswerkers is Donderdag per helikopter na ontoeganklike gebied geneem toe die weer verbeter het.
Die aardbewing het slagoffers oor groot dele van die Himalaja-streek geëis. Beamptes sê 73 is in Sikkim – ‘n Indiese staat in die Himalajas – dood terwyl 12 mense se lewens in Bengal geëis is. Ses mense het in Bihar omgekom en nog ses mense is in Nepal dood. Altesaam sewe mense het in Tibet gesterf.
Daar word verwag dat die dodetal verder sal styg.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA