Dodelikste aanval in maande ruk Pakistan
2012-01-10 20:59
Pesjawar – Vyf-en-dertig mense is Dinsdag dood en meer as 60 is beseer in die dodelikste aanval in maande in die stamdistrik van die noordweste van Pakistan.
Die ontploffing, wat deur ‘n afstandbeheerde bom veroorsaak is, het in ‘n mark in Jamrud plaasgevind.
Volgens amptenare was twee kinders, wat onderskeidelik nege en 10 jaar oud is, en drie polisielede onder dié wat in die aanval dood is.
Niemand het tot dusver verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie, maar plaaslike inwoners vermoed dat dit as gevolg van ‘n dispuut tussen verskillende stamme was, aangesien die meeste van die slagoffers lede van die Zaka Khel-stam is.
Bloedspore kon in die gebied waar die ontploffing plaasgevind het gesien word en daar was ‘n groot krater in die pad.
“Die totale hoeveelheid sterftes van die ontploffing is 35, terwyl 69 mense beseer is,” het ‘n senior administrasie-beampte, Shakeel Khan Umarzai, gesê.
Hy het bygevoeg dat 11 mense in ‘n kritieke toestand is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP