Dodelike bom ruk Filippynse hotel
2011-11-28 12:08
Manila – Drie mense is dood en 28 ander beseer toe ‘n bom by ‘n klein hotel in die suide van die Filippyne ontplof het, het die polisie gesê.
Die ontploffing het Sondagaand in ‘n kamer van die Atilano Pension House in die stad Zamboanga – sowat 875 km suid van die hoofstad, Manila – plaasgevind.
Felicisimo Khu, ‘n polisie-bevelvoerder, sê owerhede is besig om vas te stel watter soort bom dit was.
Supt. Elpidio de Asis sê die polisie vermoed dat die Moslem-rebellegroep Abu Sayyaf verantwoordelik is vir die voorval.
“Ons sal steeds ondersoek instel, maar slegs die Abu Sayyaf word by bomme in die stad betrek,” het hy gesê.
De Asis sê die bomaanval het tot ‘n brand gelei wat die twee-verdieping-hotel verwoes het.
Hy sê twee slagoffers het in die hospitaal gesterf. Die derde slagoffer se lyk is in een van die hotelkamers gevind.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA